Welkom in die nuwe seisoen
Welkom in die winter van 2011 en baie welkom in ‘n nuwe interessante seisoen in die eiendomsmark! Die mark is aan die draai – soos ‘n seekat op rolskaatse met baie beweging in alle rigtings.
Ons het reeds in die eerste 6 weke van hierdie jaar meer kopers uitgevat as in die hele 2010 maar dis nie dieselfde kopers van die goeie slegte ou dae voor die resessie nie. Hulle is slim en geduldig en party van die Januarie-oes is steeds met ons, op soek na daardie diamant. En dit is presies waaraan daar ‘n tekort is, goeie eiendomme teen markverwante pryse. Dis asof verkopers sit en wag vir ‘n teken terwyl die oes lankal goudgeel op die lande staan!
As jy dit oorweeg om te verkoop, kontak ons gerus vir ‘n waardasie. Ons het heel moontlik reeds ‘n paar geskikte kopers vir jou huis wat kant en klaar hulle huiswerk gedoen het en ryp is om ‘n aanbod te maak. Nee, hulle soek nie noodwendig winskope nie, almal weet daardie tyd is verby, net waarde vir geld en ‘n huis waarop hulle kan trots wees – soos julle s’n!
As jou huis reeds in die mark is maar die regte koper het nog nie opgedaag nie, of as jy weet van ‘n ander eiedom wat in die mark is of gaan kom, kontak ons ook. Ons het baie kopers!
Beteken dit jy gaan aan die kortste ent trek as jy wil KOOP? Gladnie, ons kan jou dalk eerste aan die nuwe vars voorraad gaan voorstel wat ons nou in die mark gaan kry!
Die banke gee weer lenings – vir die oomblik… In sommige gevalle selfs 100% en aangesien gewone sterflinge min insae het in die weë van finansiële instellings is dit ‘n goeie idee om te skep terwyl dit rëen. Vir die belangstel het ons ‘n konsultant wat julle (of julle kopers) vooraf kosteloos kan kwalifiseer sodat almal weet waar hulle staan.
Die ander goeie nuus is dat die gevreesde “consumer protection act” nie verkopers uit die mark hoef te hou nie. Al wat verander is dat die “voetstootse” klousule vervang moet word deur ‘n lys van defekte, wat ons in elk geval nog altyd opgestel het. As jy werklik veilig wil voel kan ons ook ‘n inspeksie laat uitvoer. Ons professionele onderhoudsbestuurder is ook beskikbaar om te kwoteer vir enige werk aan eiendomme wat ons bemark.